Sharoney
Sanger, Liedjieskrywer
’n Talent wat helder skyn
Sharoney het die afgelope paar jaar haar plek in Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers se harte losgesing. Haar borrelende persoonlikheid en lekkerluister-popstem, is die perfekte pasmaats vir haar splinternuwe album, SKYN, wat eersdaags op musiekrakke regoor die land gaan pryk. Hierdie nuwe vrystelling, uit die pen van ADAM en Vaughan Gardiner, is vars en modern en bestaan hoofsaaklik uit opgewekte dansmusiek – met lirieke en wysies wat luisteraars vir lank sal bybly. Die elf oorspronklike snitte dien ook as ’n duidelike bewys van hoeveel die sangeres oor die afgelope paar jaar, as kunstenaar, gegroei het. “Musiek is die droom en passie wat deur my are vloei en ek wil dit graag met mense deel. Die nuwe album se aanslag is meer volwasse en bevat baie emosie, maar sal luisteraars steeds laat goed voel oor hulself. Die CD is oor meer as ’n jaar opgeneem en dit is vir my ’n groot eer om saam met groot name soos Hugo Ludik, Vaughan Gardiner en Kyle Grant hieraan te kon werk. Hulle verstaan my styl en hart en het liedjies geskryf wat daarby pas en waarmee aanhangers sal kan identifiseer,” vertel Sharoney. “Elke liedjie wat ek sing, het ’n baie spesiale plek in my hart en daarom kan ek nie regtig ’n gunsteling uitsonder nie. My vorige album is deur Byron Kunz vervaardig, terwyl die nuwe een deur Hugo Ludik behartig word. Hy is ’n perfeksionis en daarom is die eindresultaat ook niks minder as perfek nie. Hy delf diep en ontgin aspekte van my talent wat ek nie geweet het bestaan nie. Ek verwag dat die nuwe album my horisonne, as kunstenaar, sal verskuif.”
Die eerste enkelsnit, SKYN, is pas vrygestel en is die titelsnit van die nuwe album. Dit is Hugo en Vaughan se handewerk en is nie net sag op die oor nie, maar het ook ’n kragtige en inspirerende boodskap, wat aanklank vind by gehore van alle ouderdomme. “Hierdie liedjie is inpirasie om nie toe te laat dat die dinge van die wêreld ’n maatemmer oor die lig, wat jy uitstraal, sit nie. Om jouself te wees en te glo in wie jy is as mens. Jy is jy en dis wat jou laat skyn,” sê sy. “Die snit beteken vir my so baie. Dit gee my eintlik ’n knop in die keel as ek daaraan dink en selfs wanneer ek dit sing. Ek het self al hindernisse teëgekom, wat ek nie gedink het ek sou kon oorkom nie. Deur genade het ek, en dit is nou my tyd om te skyn. Ek hoop en vertrou dat ek dit met elke tree van my lewenspad sal doen.”
’n Musiekvideo vir die enkelsnit is ook in die pyplyn en sy is baie opgewonde om saam met die span van Fathom Media daaraan te werk. Alhoewel sy nog nie te veel oor die eindbeplanning wil verklap nie, meen sy dat die storie wat in die video vertel gaan word, die tema van die liedjie perfek sal komplementeer. “Ons beplan om die musiekvideo in ’n industriële area te skiet en om sowat 60 ekstras en die silhoeëte van geboue en fabrieke in te span om die regte atmosfeer te skep en die video uniek te maak. Die hele proses voel vir my soos toneelspeel, so ek hou daarvan om op stel te eksperimenteer en my akteursvernuf uit te toets. Dis iets wat ek baie geniet,” deel sy.
“Ek wil graag hê dat my musiek ’n positiewe effek op luisteraars moet hê. Ek wil iets agterlaat wat ’n verskil kan maak, ander inspireer en deel wees van die oplossing. Die musiek moet aanklank vind by oud en jonk, en moet die tipe musiek wees waarna gesinne met vakansie kan luister, jonges by ’n kuierplek of om ’n braaivleisvuur kan speel en mense op kan dans… dit maak mos van ons Afrikaans.”
Sharoney het in 2014 die musiekwêreld amptelik betree toe haar eerste enkelsnit, Een Keer, wat deur ADAM se Hugo Ludik en Reynardt Hugo geskryf is, binne enkele dae die trefferleer begin klim het en sommer vir lank bo-aan, al wat ’n treffersparade is, gekuier het. Die musiekvideo is net so goed ontvang en kan gereeld op kykNET, SABC 2 en ASTV gesien word.
Kort daarna is haar debuutalbum, In Ons Fairytale, vrygestel en dit was ook ’n kitssukses wat aan haar in 2015 twee Ghoema-nominasies (Nuweling van die Jaar en Beste Pop-Album deur ’n Vroulike Kunstenaar), asook ’n benoeming vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning (Nuweling van die Jaar) besorg het. Prinses, haar tweede enkelsnit uit die pen van Hugo Ludik en Reynardt Hugo, was ook baie gewild en het dadelik lugtyd gekry oor die radio en ook op televisie.
Die vrystelling van haar derde en vierde enkelsnitte en musiekvideo, Fairytale en Wees My Held, het haar plek in die harte van Suid-Afrikaners verstewig en voortgebou op die sukses wat sy reeds bereik het.
Intussen het Sharoney ook al gesig gewys op verskeie programme, waaronder IMPAK (Kruiskyk) TV, SABC 3 se Play Network, Be Your Dream op kykNET, Thswane TV se Kwaai Musiek, JAM, Jukebox, Expresso, Morning Live, ENN7, LekkerTV en Groot Ontbyt se Wat’s die Storie en by van die land se grootste feeste, soos die KKNK, opgetree. “Ek geniet televisiewerk nogal baie en het al hier en daar aan ’n realiteisreeks deelgeneem en TV-onderhoude gedoen. Dit sal vir my baie lekker wees om eendag dalk ’n aanbieder te wees of selfs in ’n Afrikaanse fliek of musiekblyspel te speel,” verklap sy entoesiasties. Sy sou graag ook een van Brümilda van Rensburg se dramakursusse wou doen, maar het nie op die oomblik tyd om gereelde klasse by te woon nie, so sy vat alles maar een-dag-op-’n-slag en is dankbaar vir die geleenthede wat na haar kant toe kom.
DIE MEISIE AGTER DIE STEM
Sharoney is een-en-twintig jaar oud en baie entoesiasties oor die lewe. Sommer met die intrapslag besef jy dat sy ’n alles-of-niks mens is, dat sy nie daarin glo om kortpaaie te neem nie en bereid is om hard te werk vir wat sy wil hê. Sy het op die ouderdom van agt begin sanglesse neem en is in 2010 gekies om deel te wees van ’n uitesoekte groep musikante om Suid-Afrika in Los Angeles te verteenwoordig. In 2011 neem sy ook deel aan die sangafdeling van Beyond 2000 se Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste. Sy het egter eers besef dat musiek haar roeping is nadat sy in 2012 aan die Suid-Afrikaanse Talentkampioenskappe (SATCH) deelgeneem het en oorweldigende goeie terugvoer ontvang het.
Toe sy in 2013 aan Hoërskool Hugenote in Springs matrikuleer, wou sy graag gaan regte studeer, maar het gou besef dat dit nie gaan inpas by ’n loopbaan in die musiekwêreld nie. Daarom het sy besluit om liewer BA Kommunikasiewetenskappe te probeer, omdat dit goeie agtergrond bied vir wat in die vermaaklikheidsbedryf aangaan. As lid van die Performer Corner, is sy ook deur regisseur At Strydom genader om deel te wees van sy produksie, Wasem, wat bevestig dat sy ’n meisie van vele talente is.
Haar musiekloopbaan het egter eers begin vlam vat toe Hugo Ludik, van Muse Productions, haar talent raakgesien het tydens ’n voorvertoning vir ADAM en hy het haar toe onder die vlerk geneem en met die regte mense in kontak gesit. Die resultaat hiervan, was ’n CD wat spesiaal vir haar geskryf is en deur Luisternet uitgereik is.
Sharoney se familie is vir haar baie belangrik. Sy kom uit ’n baie hegte gesin wat gereeld saam kuier. Haar pa is haar held en sy beskou hom as haar mentor omdat dit hy is wat haar geleer het van hard werk en uithou, al is dit hoe moeilik.
Wanneer jy haar vra waarmee sy haarself besig hou wanneer sy nie sing nie, borrel sy letterlik oor van entoesiasme oor die liefdadigheidswerk waarby sy betrokke is. “Liefdadigheidswerk maak my opgewonde, omdat daar min dinge is wat vir my so lekker is as om te kan gee. Ek was baie betrokke by Hope4Ruben, wat fondse ingesamel het vir Ruben Scharneck wat in 2014 gediagnoseer is met Neuroblastoma-kanker, maar ongelukkig vanjaar sy stryd teen die siekte verloor het. Ek is steeds betrokke by Hi5 Kids Recovery Unit, ’n nie-winsgewende organisasie, wat hulle beywer vir die algemene welstand van kinders en veral ingryp waar mishandeling, molestering en dwelmmisbruik deur ouers betrokke is. Ek spandeer ook gereeld tyd saam met siek kinders waar en wanneer dit nodig is,” vertel sy.
OOR DIE TOEKOMS…
Dié sangsensasie het nog baie planne vir die toekoms. Sy wil die land plat toer, haar handelsmerk vestig, saam met groot name optree en selfs ’n loopbaan op die kassie bou. “Die klein goedjies in die lewe inspireer my. Ek kyk op na kunstenaars wat al jare in die bedryf is, maar getrou bly aan wie hulle is, want ek wil ook so wees – nederig, plat-op-die-aarde en net myself,” sê sy.
Hierdie talentvolle blondekop van Springs het ’n baie volwasse benadering tot haar loopbaan. “Ek het geleer om dankbaar te wees vir elke geleentheid wat oor my pad kom, dat geen gehoor te klein is nie en dat sukses begin by die eerste tree… daarom sal ek my voete stewig op die aarde hou en nooit ophou droom nie.” Sharoney het beslis die afgelope paar jaar vir haar ’n plek gevestig in die land se musiekbedryf en daar bestaan geen twyfel dat haar mooi stem en nuwe album vir haar nog baie deure gaan oopmaak in die toekoms nie.
LIEDJIES OP SHARONEY SE NUWE ALBUM:
Skyn
Crush
Jy Lyk Soos Moeilikheid
Dobbelstene
Stilte
Wie’s Bang Vir Seerkry?
Toe Gaan Jy Weg
Totaal En Al
Veilig
Onthou Jy?
Is Jy Bereid?
HET JY GEWEET?
● Sharoney is ’n kranige sportvrou en het op skool ook in hokkie presteer.
● Sy is ’n baie groot rugbygeesdriftige en is mal oor biltong.
● Die sangeres loop graag kaalvoet, neem haar musiek sonder skoene op sodat sy die ritmes kan voel, en kan goed dans.
● Dit maak haar ongelukkig wanneer mense nie respek het vir die Skepping nie.