Skip to main content

Goeie Dag Vriende 

Dis heerlike lente buite maar tesame daarmee is ek ook opgewonde , want daar is lente in my hart !  

#Skyn doen ongelooflik goed op die treffersparades en in op die oomblik op nr 6 op kykNET NOU se #kykNETTop20, Nr 2 op @LekkerFM, nr 8 op Overvaal Stereo en vele ander. ..Ek is ongelooflik dankbaar vir julle ondersteuning en ongelooflik trots op sy vordering..boonop het #Skyn se koms sommer ekstra motivering gebring en lig laat #Skyn op ‘n deel van my lewe wat donker was !!

Ek het so lankal iets op die hart, die tyd was nog net nooit 100% reg maar met die koms van #Skyn het dit al duideliker geword hoekom ek moes wag voor ek die storie vertel…

Ek onthou hoe ek altyd gewens het vir ‘n song wat bietjie dieper is as liefde … bietjie meer sê as “ ek is lief vir jou” … ‘n song wat ‘n storie vertel sonder om “ soppy “ te klink … ‘n song wat jou motiveer, aanspoor en laat uitsien na die lewe en die seisoene van die lewe …ek het self nie geweet waarna ek soek nie, maar ek het geweet die liedjie moes ‘n ” powerful ” boodskap oordra…mense wat daarna luister toerus met iets waarmee hul die spoke in hul gedagtes kon bang maak…verdryf…

Ek onthou die dag toe ek #Skyn se demo van Hugo af gekry het… ek was op toer saam met Ray Dylan en Len Muller… toe ek die lirieke hoor was dit asof Hugo en Vaughan my onuitgesproke wens vir hierdie song iewers op ‘n magiese manier te hore gekom het want dit was soos kaalvoet loop … ideaal… net vir my

Ek deel hierdie verhaal omdat ek wil hê almal wat in dieselfde situasie is moet weet jy is die oorwinnaar en nie ‘n slagoffer nie en elkeen wat hier lees moet ook weet jy hoef nooit ‘n slagoffer te wees nie …

In elke mens se lewe is daar geheimenisse, gebeure en emosies waarvan min mense weet… jy dra dit saam in ‘n kamer in jou hart , maar besoek daardie vertrek selde… die deur bly toegetrek, dis donker daar…die herinneringe moedswillig stowwerig maar beslis helder…duidelik…rou… niemand besoek daardie plek in jou hart waar gedagtes jou emosies laat maalkolk …

Kyk , skool was nie vir my ‘n lekker seisoen nie… die aktiwiteite was hemels, ek het elke oomblik daarvan geniet, maar soos die lewe sy fasette het , is skool ook opgedeel in kompartemente en buiten vir skool aktiwiteite … redenaars, debat, koor, hokkie… kultuur, drama en al die lekker dinge was die roetine van skoolgaan en die interaksie met mede leerlinge maar altyd ‘n taai toffie waarmee ek daagliks moes deel.

Kinders is genadeloos… jy pas in of nie… daar is nie ‘n goue middeweg waar jy ‘n gemaklike plekkie kan vind van waar jy as individu jou vlerke kan sprei om te vlieg nie… Jy word van dag een af opgesom… deurgekyk en opgeweeg en dan in ‘n boksie geplaas IN of UIT…

Die kriteria vir die IN boksie is slim, mooi, maer , gewild, sportief en as jy nie aan elke een van die kriteria voldoen nie is jy gedoem tot die UIT boksie en daar is geen deur óf gang wat jou uit daardie boksie kan haal en toegang gee tot die IN boksie nie … jy vertoef daar tot die skoolklok aan die einde van matriek lui en soms jare daarna …dis in hierdie ongemaklike ruimte waar ek my vir my hele hoërskool loopbaan bevind het

As gemiddelde leerling uit ‘n agtergrond waar ons geleer is om hard te werk, weer te probeer… knieë af te skud na ‘n val en weer op te staan… weer te probeer… nie slim genoeg, mooi genoeg of vir wat dit werd was, ryk genoeg nie… het ek beslis nie aan die IN kriteria voldoen nie, nietemin het ek die regte gereedskap gehad om my weg oop te baan om op sekere gebiede uit te blink en dis hierdie kwaliteit wat bygedra het dat ek in ‘n definitiewe UIT boksie vasgevang en toegesluit was… 5 jaar van hoërskool in ‘n eensame “ dungeon “ waar ek voortdurend harder moes probeer… keer op keer teleurstelling verwerk van vandag word jy op meriete verkies tot een of ander Prestige span, maar more is daar skommelinge en jy is gedoem tot die “B” span … jy word in werklikheid in ‘n laer ” rangorde” ingeboelie…onregverdige en ongemotiveerde besluite wat veroorsaak dat jy nooit deel van ‘n aangewese groep sal word nie…Emosionele boelies het ‘n manier om hul gruwelike planne uit te voer sonder dat enige iemand daarvan bewus is … sommer so met ‘n glimlag op hulle gesigte… tevredenheid aan hulle kant gewaarborg

Jy loop deur in stilte, dra jou kruis want emosie maak jou swak en kwesbaar… wyse raad van my Mams… as jy huil , huil jy vanaand by die huis maar more daag jy op soos ‘n oorwinnaar met ‘n glimlag op jou gesig en waagmoed wat vir niks stuit nie. Trek jou skouers op en kyk die lewe vierkantig in die oë. Jy brul soos ‘n leeu al is die vrees binne jou groter as daardie brul… Die lewe maak nie plek vir slagoffers nie… terwyl jy bloei gaan die wedloop voort…my keuse om van sang ‘n loopbaan te maak het dit nie makliker gemaak … die aanvalle en kritiek voortdurend feller. Jy voel later of jy die alleenheid verdien

Die einde van matriek het aangebreek soos ‘n lang verwagte somer, ek kon vry wees en asemhaal… my vlerke sprei en vlieg…weg van die meetsnoere wat maar altyd te kort of te min meet en dis hier waar ek besef het dat dit onnodig is om jouself te laat toesluit in tronke wat ander mense vir jou bou… jy is nie gedefinieer deur ‘n IN of UIT groep , hoe slim of mooi jy is nie … jy is jy ! Jy is presies hoe God wou hê…

Ek moes eers vêr staan voordat ek kon verstaan…myself uit my eie situasie haal voordat ek besef het dat ek oorleef het, hoogtes bereik het en sukses behaal het…ten spyte van al die redes hoekom ek nie goed genoeg was nie…ek het besef dat ek die sleutel van die tronk waarin ander my vermoeëns opgesluit het moes draai…myself vrylaat voordat ek ander kon vryspreek en ek het vrede gemaak met ‘n tyd wat ek soms gedink het my gaan breek maar toe eintlik ‘n stewige fondasie onder my voete kom bou het

Hier sluit #Skyn by die verhaal hierbo aan en dit is hoekom hierdie song vir my soveel betekenis het .… hierdie lied was spesiaal vir my …sonder dat ek nodig gehad het om ‘n woord te sê en al het dit 3 jaar na die nare seisoen oor my pad gekom het was dit presies in tyd… op tyd… betyds en vandag kan ek hierdie stukkie kosbare gereedskap gebruik om vir jong mense daarbuite te sê … jy hoef nie weg te kruip of jouself klein te maak of selfs minder te voel nie… staan sterker, praat harder , moenie laat jou lig verdwyn nie … SKYN… God het jou gemaak en Hy is ongelooflik lief vir jou… jy is die aandster, jy is die lighuis …en al gaan jy op een of ander tyd teenstand kry, of dinge nie na jou wense uitwerk nie jou is jy toegerus met Goddelike gawes… is jy die vuur wat saans die pad wys … SKYN

Selfs al het ‘n “curve ball “ my die jaar na matriek amper van stryk af gebring weet ek vandag verseker dat daar ook daarmee ‘n doel was. Vandag kan ek Skyn oral waar ek gaan want ek weet God is die lig in my en daarom kan ek die lig wees – Mat 5:11

Weet veseker dat jy ook lig is en dat elkeen van julle wat op die blad saamkuier is ‘n straaltjie is wat helder #Skyn en my lewe ophelder.

Ek waardeer julle en is uit my hart so lief vir julle

Blessings vir die naweek

Leave a Reply