Dis Desember !!

Dis Desember...

My gedagtes aan Desember gaan onwillekeurig gepaard met somer, son, vakansie , Kersliggies, vreugde en feesvieringe en baie lekker kos !!

Dis die tyd van die jaar waarin ons aanvaar dat almal outomaties meer opgewek is, bietjie meer uitbundig is en almal oor die algemeen gelukkiger is.  Dit word ook so gepropageer deur die advertensies in die media ... ongelukkig is dit nie die realiteit nie 

Om vele  vreugde vure sit hartseer , eensame mense al is hulle omring deur mense, mis hulle dalk daardie een mens wat nie meer deel uitmaak van hul lewens nie, of dit nou is omdat verhoudings dalk nie uitgewerk  het nie... dalk omdat werksomstandighede mense van mekaar skei en landsgrense die afstand en verlang erger maak... dalk het die dood vanjaar sy koue kloue  tussen geliefdes, familie en vriende kom inwurg ... dalk is die roof lankal droog , maar die feestyd krap met lang naels die wond weer rou 

Dis ook 'n fees seisoen waarin ons gesin lag met 'n traan ...Dit is ons eerste Kersfees sonder my Ouma , ook eerste oujaar en Nuwe jaar en dan wanneer die Nuwe jaar met uitbundigheid kom groet , vier ons Ouma se verjaardag , ook die eerste een sonder haar ....  Ons gaan haar mis, dit gaan anders wees, ons gaan steeds  braai , maar sy gaan nie om die vuur sit en stadig aan 'n flou Wiskey sluk nie...

Tog is ek opgewonde en regtig lus om daardie boom met sy flikkerende liggies en gekleurde balle op te slaan.  Ek sien uit na die geskenkies toedraai en my broer se kindertjies se opgewondheid te beleef by die gedagte aan di eoom met die rooi klere en spierwit baard.  Ek sien uit na Oukersaand se lekker eet en lees uit die Woord... die saamwees van familie , hartsmense ...almal met hul eie gedagtes...elkeen met sy eie hartseer maar almal ongelooflik dankbaar om 2018 se Kersfees bymekaar te kan wees.  Ek sien uit na skaapboud, gammon, rys, aartappels en wortels... die smaak van die bekende ... dit wat dieselfde is as elke ander jaar al is vanjaar om soveel redes anders as ander jare...

My wens vir Kersfees... Dat ons land gesond sal word, dat elkeen wat gedurende 2018 hartseer of verlies ervaar het daardie leed onder die mooi boom sal begrawe en skuiling sal vind onder die vlerke van Hom wat vir ons troos bring... my wens vir elke liewe mens is liefde in oorgawe, 'n plek om te hoort...'n familie om van deel te wees, al is dit nie jou bloed nie ... Ek bid vir elkeen van julle 'n besonderse feestyd.  Mag ek en jy en elke ander persoon onthou dat Kersfees die seisoen van gawes is, nie noodwendig die tipe wat in valuta betaal word en kleurvol toegedraai word nie, maar die tipe wat jy gee uit jouself...selfs wanneer dit voel asof jy niks oorhet om te gee nie... gawes van liefde, omgee, 'n glimlag en seker in vandag se dae is die kosbaarste hiervan TYD ... spandeer bietjie meer tyd aan jou mense ... luister meer, lief meer ... sit so bietjie langer ...

Baie dnkie vir julle liefde en ondersteuning deur die jaar... dit is een van my grootste geskenke !

Geseende Feestyd ... onthou om te #Skyn
Baie liefde 
Sharoney 

Foto Krediet : Fransie Pretorius - Profitea Lifstyle & Wedding Photography