Feestyd

Sharoney se 2016 Somer Kersfees

Vriende ... Desember is 'n tyd van feesvier, liggies , geskenke , samesyn en vreugde.  Kersmusiek weerklink in winkel gange en mense is op die oog af almal in goeie luim, maar onder al die klaterblink, feesliggies en kunsmatige vreugde skuil daar baie hartseer, swaarkry en , ja ... ek is seker ook verwyte oor baie dinge wat skeefgeloop het in 2016...

​Vir my is Kersfees, Desember en die feesgety 'n gunsteling tyd... ek geniet elke oomblik saam met die kosbare mense wat in my hart en DNA ingeweef is saam met wie ek die feestyd kan deurbring... en ek waardeer die liefde, omgee en ondersteuning van diegene wat deur die jaar deel van die "bloedsomloop" van my lewe en loopbaan uitmaak wat die feestyd elders spandeer.

​Kersfees het sedert my kinderdae vir my bekoring ingehou... Die opslaan van die Kersboom wat in ons huis tradisioneel op 1 Desember plaasgevind het , het die borrelende gevoel van die seisoen afgeskop.  Tussenin was daar die gebruiklike familie ete om en by 16 Desember waar die hele gros familie bymekaarkom ( ongeveer 45 van ons ) , waar tafels kreun onder Afrikaner kos en poedings... elke vrou se uithaler geregte... Ouma Pikkie aan die stuur van sake...haar aartappels en melktert die gunstelinge...haar stem nou stil maar haar herinninge nie. Kersboom by die Sondagskool met itemme deur elke klas, sentlegging daarna en dan die gemeente kuier voordat elkeen in sy rigting spat...soms as ons Kersfees tuis was 'n middernag Kersdiens...opgetooi en reg vir kerk waar Past. Olwage klokslag gereed was vir die diens om 23h00 of Oukersaand by die see... kookkos, my Tannie Mara se malvapoeding ,  kersboom, kersvader, familie, 'n kersboodskap deur my Dads  ... " wag vir Kersvader" tot 24h00 en kuier!!  Kersdag-kouevleis-en-slaai saam met die familie en vriende en daarna 'n  rustige middag vir elke gesin op sy eie en dan weer 'n herhaling van die groot kuier tot die jaar sy laaste asem uitblaas en almal emosioneel en nostalgies raak om 24h00 op Oujaarsaand...

​My kosbaarste herinneringe aan die mooi tyd se somtotaal word nie in rand en sent bereken nie, a inteendeel kan ek meeste van die geskenke nie onthou nie, maar die mooi wat ek onthou loop rente...die mooi is my mense, my ouers, broer en skoonsus, niggies , nefies, oumas en oupas, ooms en tannies en so met die tyd het sommiges van hulle se stemme stil geword... Kersfees is nog alyd lekker... maar ook anders en soos ek ouer word, word die liggies dowwe  , musiek sagter , atomosfeer en selfs die kos minder belangrik terwyl elke stem, elke glimlag en elke "lyf" vir my toeneem in waarde...amper half versamelstukke word... want sien, Kersfees is nou en seker maar die volgende een?

​Ons familie  groet mekaar vanjaar op Malapi, ons " Stukkie Aarde" voordat elkeen sy eie Kersfees koers inslaan... want sien ... kinders trou... kry nog familie by...kry eie kinders en roer weer 'n pot vol nuwe mooi herinneringe saam met  hulle families... heeltemal anders as in die verlede... maar tog ook dieselfde... feesgety, kos, familie... kleiner geskenke... sterrehemel, die natuur se stilte en God se teenwoordigheid meer tasbaar in die natuur as ooit in die stad....

​Dis my Kersfees vir 21 jaar lank... so bevoorreg om hierdie gees van liefde te kan ervaar in 'n tyd waarin ander dalk kan wroeg en seerkry...Dankie my Koning en my God vir U Seun, seen en liefde

​My wens is 'n geseenide en geliefde Kersfees vir elkeen wat hier lees
Kersgroete
Sharoney